Geskiedenis

Geskiedenis 2023-05-03T09:08:20+00:00

Geskiedenis van die gemeente

Voor 1925 is lidmate in Kleinmond op ‘n gereelde maandelikse basis en onder beskerming van die Caledon Gemeente, as ‘n wyk bedien. Gedurendende 1925 begin die kerkraad van Hermanus gemeente ernstig met die Kleinmond Sindikaat onderhandel om grond vir ‘n kerksaal hier te kry. Dit was ‘n redelike lang proses, maar hulle het vier mooi erwe bekom.

Die Kleinmond-wyk wy op 4 April 1931 ‘n kerksaal in wat teen ’n koste van R1 548 opgerig is. Die kerksaal het jarelank diens gedoen as kerkgebou. In 1958 is die ou klok van die gesloopte kerkgebou van Hermanus Gemeente, aangekoop.

Op 18 Oktober 1970 word ‘n lang gekoesterde droom gerealiseer met ‘n afstigtingsvergadering en die NG Gemeente Kleinmond met net meer as 300 lidmate, word gestig.

Aanvanklik lei ds. A D Raats, ‘n emeritusleraar van Kleinmond, die nuwe gemeente. Op 17 Januarie 1971 aanvaar ds. P W J van Jaarsveld van die NG Gemeente Noorder-Paarl, die beroep na die nuwe gemeente. Ds Paul en mev. Bettie van Jaarsveld word op 17 April 1971 verwelkom. In 1974 aanvaar ds. Van Jaarsveld sy emeritaat. Hy is op 23 April 1980 oorlede en is op Kleinmond te ruste gelê.

Ds. J N F O’Kennedy van die NG Gemeente Rondebosch word op 28 Julie 1974 beroep. Op 1 November word ds Kenney en mev. Cinie O’Kennedy in die gemeente ontvang. Cinie O’Kennedy het dikwels as orrelis in die gemeente opgetree. Die kerkgebou word in 1979 voltooi en in gebruik geneem. Dr. O’Kennedy aanvaar in Julie 1982 sy emeritaat. Hy is in 2005 oorlede.

Op 12 Desember 1982 word proponent T J Henn beroep en Theuns en Marlene aanvaar diens aan die begin van 1983. In Maart 1988 aanvaar ds. Henn ‘n beroep na die NG Gemeente Stellenbosch-Noord. Hy het sedertdien sy emeritaat ontvang en sy vrou is tragies oorlede. Hy woon tans saam met sy tweede vrou Suzie, weer in Kleinmond.

Op 17 Mei 1988 word proponent J Johnson beroep en op 18 Junie word Johan en Retha Johnson in die gemeente bevestig. Hy dien hier tot 17 Februarie 1998 en woon tans in Somerset-Wes waar hy steeds by die kapelaansdienste betrokke is.

Die gemeente het so gegroei dat daar op 20 Mei 1991 besluit is om tydelike hulp vir die bediening te kry en op 4 Augustus 1991 word ds. N G (Nico) en mev Michelle Rabe in die gemeente verwelkom. Op 7 Mei 1993 word ds. NG Rabe amptelik as tweede leraar bevestig.

Ds. M E (Marius) Breytenbach is as pastorale hulp aangestel vanaf 1 Februarie 1998 en word op 15 Junie 1998 as mede-leraar beroep. In ‘n stelsel van standplaas-ruiling vertrek hy en sy vrou Riëtte op 30 Junie 2004 na die NG Kerk Stellenberg, waar hulle steeds werksaam is.

Ds. Barry Lordan word as pastorale hulp aangestel vanaf 1 Januarie 1999. In November 1999 word Barry en sy vrou Karen as derde leraarspaar in die gemeente bevestig.

As deel van die standplaasruiling wat tot die beroep vir ds. Marius gelei het, word ds. S W van Wyk van Suider-Paarl op 8 Maart 2004 beroep. Schalk en Marieke was vanaf Julie 2004 deel van die gemeente. Op 27 Mei 2012 vind die afskeidspreek van ds Schalk plaas.

Nog ’n mylpaal in die geskiedenis was die ingebruikneming van ’n gemeentesentrum in die Hangklip-streek in 2009, nadat daar vir baie jare onder moeilike omstandighede in die Crassula-saal kerkdienste gehou is. Reeds sedert die tagtigerjare is daar gedurende die vakansietye dienste by Mooi Hawens en Disakloof gehou.

Deur middel van standplaasruiling word ds Barry Lordan en ds Steven Sass van Patensie oor-en-weer beroep. Ds Barry en sy gesin vertrek aan die einde van 2015 na Patensie, waar hy steeds werksaam is. Sy aftreepreek het op 1 November 2015 plaasgevind.

Ds Steven Sass en Marina en hulle twee jong seuns word aan die begin van Desember 2015 in die gemeente verwelkom, met sy bevestiging op 6 Desember 2015.

Ds Nico Rabe aanvaar demissie en lewer op 10 April 2016 sy afskeidspreek. Daarna is ds Steven Sass die enigste leraar in die gemeente. Dr Chris Malan word beroep en hy aanvaar. Saam met sy vrou Mientjie en hulle twee kinders word hulle in Desember 2016 verwelkom. Sy bevestiging het plaasgevind op 15 Januarie 2017.

Sedert 2017 is daar twee leraars in die gemeente: Ds. Steven Sass en dr. Chris Malan.

Ds. Steven Sass aanvaar ‘n beroep na Skotland en ontvang demissie op 1 Julie 2021.

Dr. Chris Malan doen Covid in ‘n baie ernstige graad op en die Kleinmond gemeenkap bid hom terug. In die proses is sy gesondheid egter so ernstig aangetas dat hy aan die einde van 2022 met vervroegde pensioen gaan.

Die gemeente beroep ds. Heinrich Carstens en hy aanvaar diens op 1 April 2023.

Ds. Heinrich Carstens en sy vrou Jeanne Marié.