Missie & Visie

Missie & Visie 2022-04-25T11:00:50+00:00

Ons glo in God

Op 29 Mei 2000 het die Kerkraad besluit dat ons gemeente moet besin oor ons gemeente-wees en hoedanig ons nog die liggaam van Christus in hierdie wêreld is. By die vergadering van 12 Februarie 2001 dien ‘n verslag oor hierdie Besinningsprojek wat bekend staan as KLEINMOND OP PAD. Die volgende is ‘n uittreksel uit die verslag:

Om ‘op pad’ te wees, is ‘n tema wat ons telkens in die Skrif kry.
Die wese van ons godsdiens is daaraan gekoppel – God wat ons gedurig roep om Hom te volg en ons wat gehoorsaam daarby aanpas.

Ons glo dat die Here ook van ons as gemeente in Kleinmond vra om gedurig onsself te beoordeel aan sy wil. In die kerk raak ons baie maklik verstrengel in ons eie wil omdat ons baie gesteld kan raak op ons eie behoeftes. Dan hoor ons die Here sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God – soek na die wil van die Heer – en Hy sal al die ander dinge ook vir julle gee.”

‘Kleinmond Gemeente op pad’ is ‘n inisiatief wat ons glo die Here al ‘n geruimte tyd op ons harte lê. Om indringend (en in die toekoms keer op keer) weer met ons lidmate deur middel van Bybelstudies, eredienste en nog vele ander geleenthede te gesels oor wat dit beteken om saam met God op pad te wees en die aanpassings wat dit vra.

Ons wil voortdurend kyk wat ons visie beteken en onsself herinner hoe ons daarvolgens moet leef en dankbaar voor die Here juig oor aktiwiteite in ons gemeente wat dit bevorder.

Ons glo in God,
Die Vader wat alles geskep het en aan almal die lewe as genadegawe skenk

Die Seun wat die dood en duisternis deur die Kruis oorwin het

Die Heilige Gees wat ons vervul met sy inwonende krag en ons lei tot lewens van geloof, hoop en liefde.

Daarom verbind ons ons elkeen om in nederige afhanklikheid elke dag God se ligdraers te wees deur met ons genadegawes:

  • God se Woord te bestudeer en te verkondig,
  • God se heerskappy te vier deur lofprysing en aanbidding,
  • mekaar onderling in liefde op te bou en te versorg
  • in die gebrokenheid van hierdie wêreld aktief diensbaar te wees

sodat Christus alles en in almal sal wees.

‘n Werkgroep vir strategiese beplanning vir die gemeente in Mei 2000 het die gemeente se visie soos volg geformuleer:

Deur God, ons Bron van Lig en Lewe, lewe ons.

Van 2017 af is daar weer ernstig besin oor ons visie. Dit het vir die leierspan duidelik geword dat God nie sy visie vir die gemeente verander het nie. Al wat nodig is, is om nuut oor die fokusse van ons visie te dink.

Die volgende drie fokus-areas het die Here op ons hart gelê:

Ons gemeente se fokusse vir 2022:

  • Her-lew(e)-ing
  • Verdieping
  • Versorging