Nuwe Intrekkers

Nuwe Intrekkers 2022-04-25T11:25:11+00:00

Verwelkomingswoord

Kleinmond, Bettysbaai, Pringlebaai en Rooiels is ‘n besondere streek om te woon. Ons hoop jy gaan gelukkig wees hier en dat jy ten volle by ons gemeente sal inskakel.
‘n Dienswerker sal met jou in verbinding tree en jou help met die inskakeling in die gemeente. Maar as dit om een of ander rede nie gou genoeg gebeur nie, kan jy self met ons kerkkantoor in verbinding tree. Hulle sal jou kan help om met jou dienswerker of wyksouderling in verbinding te tree – Tel: 028 271 3470.

Eredienste
Ons het elke Sondag ‘n paar dienste. Die erediens in die kerk is om 09:30. In die kerksaal word daar, behalwe gedurende vakansies en langnaweke, elke Sondag ‘n diens gehou, gerig op gesinne met kleiner kinders. Die diens begin om 09:00 en die kategese vir die kleiner outjies volg net daarna.
Daar word ook elke Sondag om 09:00 ‘n erediens in die gemeentesentrum in Bettysbaai gehou. Oor die Desembervakansie word die dienste meer en daar word ‘n spesiale program daarvoor uitgegee.
Alle inligting is in die almanak vervat.

Ons gemeente is in drie streke verdeel:
Hangklipstreek, Seestreek en Bergstreek
Die streke word as volg tussen die leraars verdeel:
Die Hangklipstreek sluit Rooiels, Pringlebaai en Bettysbaai in. Ds. Steven Sass is die leraar wat vir hierdie deel verantwoordelikheid aanvaar. Hy bedien ook Kogelpark.
Die Seestreek word soos volg tussen die leraars verdeel: Ds. Steven bedien See A, See B en See C. Dr. Chris bedien Palmiet.
Die Bergstreek beslaan die deel bokant Hoofweg en sluit Heuningkloof en Arabella in. Dr Chris Malan aanvaar verantwoordelikheid vir hierdie streek (Kogelpark uitgesonderd).

Die leraars
Dr. Chris Malan is ons voltydse leraar. Hy is hier om jou te bedien. Ons het ook tien herders in die gemeente wat almal afgetrede predikante is. Een van hulle en dr. Chris sal jou besoek wanneer hulle hoor jy het ingetrek. En omdat hulle oortuig is van hulle roeping, is dit nie vir hulle ‘n las om jou te besoek nie. Maar hou asseblief in gedagte dat hulle nie daarna die inisiatief gaan neem om by jou uit te kom nie, want ons kerkraad het besluit dat die leraars nie meer roetine besoeke doen nie. Hulle sal dit egter waardeer en dadelik daarop reageer as jy self bel en vra: “Kom maak by my ‘n draai.” As jy self bel, is die voordeel dat jy en die dominee sommer ‘n afspraak kan beklink. Dan weet jy dat jy besoek sal word.
Of jy kan vir die dienswerker vra om te reël dat ‘n predikant na jou toe kom. Die dienswerker sal dit graag doen, maar jy moet weet dat dit die langer pad is. Of jy kan ’n briefie in die kollektesak gooi.

Die blokouderlinge
Hulle dien in Kerkraad en sien toe dat die geestelike versorging in die wyke gedoen word. Hulle moet ook sorg dat die administrasie en kommunikasie in die wyk vlot verloop.

Die wyksouderling
Wyksouderlinge neem verantwoordelikheid vir die geestelike versorging van die wyk. Dit behels siekebesoek, voorbidding, bemoediging uit die Skrif, ondersteuning en hulp met reëlings tydens sterftes.

Die dienswerkers
Hulle is die gesig van die gemeente. Dit is die persone wat gereeld by jou sal uitkom en wat jou sal ondersteun wanneer jy siek is of onder een of ander beproewing gebuk gaan. En dan samel hulle dankoffers in by lidmate wat per kwitansie bydra en deel inligtingstukke, koeverte en nuusblaaie uit.

Die diakens en ouderlinge
In ons gemeente het die diakens en ouderlinge ’n spesifieke opdrag. Hulle is die voorsitters van die verskillende diensaksies (die diakens) en kommissies (die ouderlinge) en dien ook in hierdie hoedanigheid in die kerkraad.

Ander diensareas
Elkeen van die diensaksies en kommissies het soveel helpers nodig as wat hulle moontlik kan kry. Bied jouself dus daar aan waar jou belangstelling lê en skakel in.